Schools League Rules 2019


EKURHULENI NOORD SKOLE RINGBAL

REGULASIES TOT DIE GRONDWET

 

Die aandag word daarop gevestig dat die wedstrydvereistes, soos aangetoon in die jongste reëlboek van Ringbal SA, ipso facto op hierdie Huishoudelike Reëls van toepassing is. 

 

1.       WOORDBEPALING

                                                              

Ekurhuleni Noord Skole Ringbal Assosiasie (ENSRA): 

Die distrik onder wie se beheer die betrokke spanne resorteer.

 

        Bestuur: Die Bestuur van die betrokke distrik.

 

        Skool: ‘n Skool wat by die distrik geaffilieer is. 

 

        Span: ‘n Ingeskrewe span van ‘n skool.

 

        Speler: ‘n Persoon wat die spel beoefen, hetsy manlik of vroulik.

 

        Skeidsregter: Die persoon wat deur die betrokke bestuur amptelik in beheer van die wedstryd aangewys is. 

 

2.      LIGABEPALINGS

 

2.1    Spaninskrywings:

 

         O/18 Dogters en Seuns – O/19 dogters en seuns mag in hierdie liga speel, kwalifiseer nie vir die SA Toernooi nie, mag nie aan die Champion of Champions deelneem nie. Span mag opgemaak word deur jonger spelers

 

              O/17 Dogters en Seuns – Slegs O/17 dogters en seuns

              O/15 Dogters en Seuns – Slegs O/15 dogters en seuns

 

              O/13 Dogters en Seuns – O/14 dogters en seuns wat nog in die laerskool is mag hier speel. Dit moet onder EN bestuur se aandag gebring word. Hierdie span kwalifiseer egter dan nie vir die Champion of Champions trofee nie, en kan ook nie kwalifiseer vir semi of finale ligas nie. Spelers proef egter in hulle regte ouderdomsgroepe.

 

2.2          Die Bestuur bepaal die datum, tyd en plek van elke wedstryd. Spanne moet hulle streng by die roosterbepaling hou. Skole mag ondermekaar reël om wedstryd te speel voor of op volgende ligadag mits deur die Wedstrydsekretaris goedgekeur.

 

  

2.3          LIGAWEDSTRYDE

              

Punteformaat 2019

                       Puntetelling bo 50                      1 Punt

Wen                                         4 Punte

Gelykop                                               2 Punte elk

Punte Gee                                2 Punte

Minder as 10 punte verloor        1 Punt

            

2.3.1       Indien die skeidsregter nie betyds is nie, moet die wedstrydsekretaris onmiddellik in kennis gestel word en met samewerking van skeidsregtersvereniging alternatiewe skeidsregters aanwys.

 

2.3.2       Indien dit reën is ‘n uur wagtydperk van toepassing voordat enige ligawedstryde uitgestel word.

 

2.3.3       ‘n Speler se ouderdomsgroep vir ligas sowel as proewe word bepaal deur die jaar waarin die speler gebore is, ongeag watter datum en maand dit is. 

 

2.3.4       In geval van onvoorsiene omstandighede sal reëlings getref word deur Wedstrydsekretaris om wedstryd op ander beskikbare tyd te speel.

2.3.5          Die gemiddelde punte vir en punte teen vir wedstryde alreeds gespeel sal gebruik word om die punte vir en punte teen, te verwerk, mits hierdie ligas nie herskeduleer kan word nie. Beide spanne sal 2 ligapunte verdien.

 

2.3.6       ‘n Bonuspunt word verdien indien ‘n span 50 of meer punte in die wedstryd behaal.

 

2.3.7       ‘n Bonuspunt word verdien indien ‘n span met 10 of minder punte verloor. 

 

2.3.8       Wanneer ‘n skool weens ‘n tekort aan spelers nie sy ligabepalings kan nakom nie, word punte vanaf die laagste spanne afgestaan. 

 

2.3.9       Waar ‘n span vir twee agtereenvolgende ligadae punte afstaan, sal so ‘n span se verdere ligabepalings opgeskort word indien EN Skole Bestuur dit nodig ag.

 

2.3.10     Die opponente van ‘n span wat onttrek ontvang 2 ligapunte vir die betrokke wedstryd.

 

2.3.11     Die wedstryde sal beheer word deur ‘n sirene, wat die aanvang van die wedstryd, halftyd asook einde van die wedstryd sal aandui.

 

2.3.12     Gemengde spanne kwalifiseer nie vir semis of finale nie. Alle deelnemers sal wel ‘n deelname sertifikaat kry.

 

2.3.13     Die spanbestuurder moet die opponente se spankaart kontroleer.  Spanbestuurders moet beide spankaarte teken.

 

2.3.14     Die 4 spanne met die hoogste punte in elke ouderdomsgroep (uitsluitend gemengde spanne) sal automaties kwalifiseer vir semi’s.

 

3.           REGISTRASIE VAN SPELERS EN BEAMPTES

 

3.1             Elke speler en beampte registreer jaarliks by ‘n skool. ‘n Speler mag nie aan ligawedstryde deelneem alvorens geregistreer is by EN Skole nie. Registrasie gedurende die seisoen moet afgehandel wees voordat die geskeduleerde ligawedstryde vir ‘n nuwe seisoen ‘n aanvang neem. Indien ‘n speler deelgeneem het sonder registrasie, sal die span waarin hy/sy deelgeneem het, alle liga en doelpunte verbeur, vir die spesifieke wedstryd.

 

3.2             Die skool is verantwoordelik vir registrasie fooie wanneer die betrokke skool ‘n span registreer

 

3.3             Geen speler mag vir twee verskillende skole/spanne speel nie.

 

3.4             Slegs spelers wat uit skole kom wat nie ringbal aanbied nie, sal in Dragons spanne geakommodeer word om te kwalifiseer vir proewe.

 

3.5             Spelers mag nie vir ‘n ander skool/span speel, registreer of proef as sy eie skool ringbal aanbied nie. Spelers wie se skool of as ‘n Dragons speler geregistreer is, mag nie by enige ander streek speel / proef nie.

 

3.6             Geen speler mag onder ‘n ander speler se naam of nommer aan ‘n wedstryd deelneem nie. Indien dit sou gebeur, sal die span waarin die speler gespeel het, alle liga en doelpunte vir die wedstryd verbeur. 

 

3.7             Laat registrasie van spelers/beamptes: Bestuur moet dadelik in kennis gestel word van ‘n nuwe speler in ‘n span, sy registrasie vorm moet ingehandig word voor die speler mag liga speel.

 

3.8             ‘n Lys van elke speler per span met 3 reserwes moet aan wedstrydsekretaris deurgegee word voor die aanvang van die eerste ligawedstryd. ‘n Span se 3 reserwes kom uit die B-span, maar word ook op die B-span se spanlys aangeteken. Enige van die 12 spelers mag aan die semi of finale deelneem.

 

3.9             Skeidsregters moet jaarliks as skeidsregter by ENSRA en/of ENRA registreer en kwalifiseer.

 

3.10           Registrasiedatums en -fooie word jaarliks deur EN Skolebestuur      bepaal.

 

4.        PROMOVERING EN DEMOVERING

 

4.1       Geen speler mag op dieselfde liga dag eers in ‘n hoër en daarna weer in ‘n laer span van skool speel nie. 

 

4.2       ‘n Speler wat in ‘n hoër span geregistreer is, mag glad nie vir ‘n laer span speel nie. Sou dit gebeur, verbeur die span die ligapunte vir die spesifieke wedstryd.

 

4.3       ‘n Impakspeler wat na ‘n hoër span gepromoveer word, moet geregistreer wees by die hoër span as impakspeler. Die speler mag die volgende wedstryd weer na die laer span gedemoveer word.

 

4.4       Waar ‘n span ‘n loslooitjie het tel dit nie as ‘n wedstryd afgelê of ‘n wedstryd gespeel vir die betrokke span nie

 

4.5       ‘n A-span speler mag nie as reserwe vir ‘n B-span optree nie. Sou daar slegs 9 spelers in die span is, word die impakspeler uit die vorige ouderdomsgroep gebruik.

 

4.6       Slegs impakspelers mag vir enige wedstryd gepromoveer of gedemoveer  word. 

 

4.7       Wanneer ‘n span sy ligabepalings afgehandel het, mag ‘n speler van daardie betrokke span nie weer in enige spanne gebruik word wie se bepalings nog nie afgehandel is nie.  

 

5.           KLEURE, SPANDRAG EN NOMMERS  

 

5.1       Spelers van provinsiale spanne moet in erkende distrikdrag speel en verder aan die vereistes van die span- en kleredrag by amptelike geleenthede voldoen. 

 

5.2       Alle skole neem deel in amptelike skool sportdrag.  

 

5.5.1      Die sokkies moet sigbaar wees. 

 

5.6         Alle spelers van elke skool moet met nommers speel en die nommers moet op die spankaart teenoor die speler se naam aangebring word. Nommers en name moet ooreenstem met spanlyste soos tydens registrasie ingedien. 

 

 

6.        PROVINSIALE PROEWE EN SPANNE

 

6.1       Ouderdomsgroepe vir proewe sal bepaal word deur SA Ringbal Skole Assosiasie

 

6.2       Keurkomitees word jaarliks deur ENSRA Bestuur aangewys.

 

6.3       Slegs een keurder per skool mag per ouderdomsgroep dien.

 

6.4       Keurdergroepe word jaarliks aangewys, naamlik:

           

6.4.1    0/11, 0/13, 0/15 en O/17 + 0/18 seuns en dogters onderskeidelik;

 

6.5       Enige speler wat aan die proewe wil deelneem moet ‘n minimum van drie ligawedstryde gespeel het. Finale goedkeuring vir toelating tot proewe sal by EN Bestuur berus.

 

6.6       Spelers mag nie proef as die proewe vorm, afskrif van ID / geboortesertifikaat nie ingehandig word tydens proewe registrasie nie

 

6.7       Spelers moet ten minste 3 van die 4 proewe bywoon om te kwalifiseer vir ‘n EN span.

 

6.8       Die keuringstelsel soos bepaal deur ENSRA Skole Ringbal Afrigtingvereniging in samewerking met Dagbestuur sal gebruik word.

 

6.9       Alle verkose spanne moet deur die Sameroeper en mede keurders van die betrokke keurkomitees aan EN Skole Dagbestuur en EN Skole Afrigtersvereniging  voorgelê word vir goedkeuring.

 

6.10     Verkose EN spelers sal bekendgemaak word as oefengroepe en nie EN Spanne nie. Spanbestuurders mag tydens EN oefeninge toestemming verkry van die Sameroeper en  Dagbestuur om spelers van posisie en/of oefengroep te verander

 

6.11     ‘n Beseerde speler moet ‘n fiksheidstoets ondergaan ten einde te bepaal of so ‘n speler aan die fiksheidsvereistes voldoen vir deelname aan die nasionale kampioenskappe. Hierdie toetse sal onder toesig van die afrigtingskomitee geskied.

 

6.12     Indien enige speler/beampte na die aankondiging van die EN Skole provinsiale spanne sou onttrek sonder ‘n geldige rede, sal so ‘n speler vir twee jaar nie vir enige ENSRA of ENRA provinsiale spanne in ag geneem word nie. Skriftelike bewyse moet ingehandig word. (Afhandeling soos Dissiplinêre kode RingbalSA).

 

6.13     Alle spelers/beamptes kan op enige gegewe tydstip vir die gebruik van alkohol en/of verbode middels getoets word. Indien die speler/beamptes positief getoets word sal die betrokke speler/beampte nie vir die res van die toernooi aan enige wedstryde kan deelneem of afrig nie. Ouers sal op eie onkoste spelers onmiddelik by toernooi kom afhaal. Dit geld ook as die getekende gedragskode nie nagekom word nie.

 

6.14     ‘n Speler wat nie gereeld die verpligte EN Skole oefeninge bywoon nie, mag na ‘n laer span gedemoveer word sou EN Skole Bestuur dit goedkeur.

 

7             PORTEFUELJES:

 

7.1       Alle portefeulje afgevaardigdes moet maandeliks die EN Skole Distrik bestuurvergadering bywoon.

 

8.        ALGEMEEN:

 

8.1       Alle skole moet hulle klagtes of ontevredenheid skriftelik aan die EN dagbestuur voorlê. Enige ongerymdhede wat onder die Bestuur se aandag kom sal op meriete behandel word. 

 

8.2       Naam- en adreslyste van skool verteenwoordigers volledig met telefoonnommers en epos adresse, moet by aanvang van die seisoen aan die EN Skole sekretaresse beskikbaar gestel word. 

 

 

 

8.3       Niemand mag namens EN distrik fondse insamel of skenkings ontvang, tensy die nodige toestemming verleen is nie.  

 

8.4       Trofeë wat deur spanne verower word, bly die eiendom van die Skool behalwe wisseltrofeë wat onbeskadig aan EN Skole terugbesorg moet word op ‘n bepaalde tyd. 

 

8.5      EN dagbestuur hou die reg voor om in buitengewone gevalle enige voorafgaande bepalings tydelik te wysig totdat n spesiale algemene vergadering uitgeroep kan word.

 

8.6         Geen drank mag tussen die bane en parkeer terrein gebruik word nie. Rook sal ook nie toegelaat word tussen die bane nie, slegs die aangewese areas mag gebruik word.

Geen persoon mag enige individu se menswaardigheid aantas nie. Geen inmenging met wedstryde, proewe of EN oefeninge sal geduld word nie.

Kru taalgebruik is onaanvaarbaar.

Rassisme is onaanvaarbaar

 

8.7      Reg van toegang voorbehou. EN Skole Bestuur aanvaar geen verantwoordelikheid vir beserings of verlies van eiendom tydens wedstryde en of geleenthede nie. EN Skole Bestuur behou die reg om enige persoon van enige perseel waar daar ‘n EN Skole byeenkoms plaasvind te laat verwyder indien enige van die reëls nie nagekom word nie.

 

Hierdie reëls is hersien en is van krag vanaf 13 Maart 2019 soos besluit op EN Bestuursvergadering, en die Algemene jaarvergadering gehou op 12 Maart 2019.